Ghana keur nuwe malaria-entstof goed

Die Ghanese medisyneregulerings-owerheid, het ‘n nuwe malaria-entstof, R21, vir gebruik goedgekeur. Die land is die eerste wat dié entstof gaan gebruik. Volgens berigte oorweeg die Wêreldgesondheidsorganisasie ook om die entstof goed te keur. Malaria veroorsaak sowat 620 000 sterftes jaarliks, van wie die meeste slagoffers kinders is. Wetenskaplikes werk al etlike dekades aan die ontwikkeling van ‘n entstof wat die liggaam teen die malaria-parasiet beskerm. Aanvanklike proewe toon dat die R21-entstof tot 80 persent doeltreffend is na drie dosisse, met ‘n versterkingsdosis ‘n jaar later. Hoewel die proefdata met verskeie organisasies gedeel is, is dit nog nie amptelik bekend gemaak nie.