Ouers hou optog vir toilette by hulle kinders se skool

Terwyl daar uitdagings is met onderwys in Namibië, moet dinge bedroef gaan as ouers ‘n optog hou om toilette te eis vir hulle kinders se skool. Vyftig ouers van kinders  by die Oshukwa-laerskool in die Omusati-streek eis dat die toilette by die skool voltooi word. Die projek is volgens wat berig word in 2020 deur Gates Trading CC laat vaar. Die skool was genoodsaak om klasse te staak omdat ouers hulle kinders vir twee weke tuis gehou het. Die ouers, wat 5 kilometer gestap het om ‘n petisie aan die skoolraad se voorsitter Aune Amadhila te oorhandig, het self geld ingesamel om die projek te voltooi maar die fondse was onvoldoende vir die 346 leerders. Die ouers sê puttoilette is nie ‘n opsie nie omdat die skoolgronde nie groot genoeg is om nog gate te grawe nie. Die skool vra reeds sedert 2013 dat ordentlike ablusie-geriewe opgerig word.