Maren dagvaar oor toegang tot sy bankrekenings

Daar word berig dat Maren de Klerk, die omstrede prokureur wat by die Fishrot-skandaal betrek word en ‘n voortvlugtige is, die aanklaer-generaal dagvaar om die bevel om sy bates en bankrekenings te bevries ter syde te laat stel. Volgens die berigte is daar rofweg 6,5 miljoen Namibiese dollar in twee bankrekenings, 1,8 miljoen dollar in ‘n rekening in sy naam en 4,7 miljoen dollar in ‘n rekening van sy regsfirma. In sy stukke sê De Klerk dat hy ontken dat die fondse inkomste van kriminele aktiwiteite is en sê dis regskoste wat verdien is as gevolg van ‘n ooreenkoms met die destydse prokureur-generaal Sacky Shanghala, alhoewel hy nie Shanghala by die naam genoem het nie. De Klerk is as ‘n voortvlugtige in Augustus 2020 verklaar. Die minister van justisie Yvonne Dausab het reeds in Mei verlede jaar ‘n uitleweringsversoek aan Suid-Afrikaanse owerhede gestuur maar De Klerk is nog nie in hegtenis geneem nie.