McIlroy onttrek aan RBC Heritage

Die wêreld se nommer drie, Rory McIlroy, het aan die RBC Heritage onttrek wat hierdie week by Hilton Head in Suid-Carolina plaasvind. Die speler van Noord-Ierland se negende poging om ‘n loopbaan-Grand Slam te voltooi het by verlede week se Meesters skipbreuk gely. Spelers onder die top-20 van die toernooireeks se spelersimpakprogram mag een voorgeskrewe PGA-toernooi per seisoen misloop. McIlroy het reeds in Januarie die seisoen se eerste toernooi, die Sentry Tournament of Champions misgeloop. Hierdie tweede afwesigheid kan hom sy bonusgeld van die spelersimpakprogram kos.