VN skarrel na sy vroue nie in Afghanistan mag werk nie

Die Verenigde Nasies sê hy is deur Afghanistan se Taliban-regering ingelig dat Afghaanse vroue nie meer toegelaat sal word om vir die VN te werk nie. Die VN het al sy Afghaanse personeel aangesê om vir 48 uur nie vir werk aan te meld nie, totdat duidelikheid oor die kwessie verkry kan word. Sedert die Taliban in 2021 beheer oor Afghanistan oorgeneem het, is tienermeisies en vroue reeds verbied by skole, universiteite, parke, gimnasiums en swembaddens. Vroue was sedert Desember reeds verbied om vir nie-regeringsorganisasies te werk, maar die VN is aanvanklik van die verbod vrygestel. Die VN sê hy kan nie voortgaan met sy werksaamhede sonder sy vroulike personeel nie en beskou die opdrag as onaanvaarbaar en ondenkbaar.