Goud breek weer deur die US$2 000-merk

Die goudprys het vandag sy hoogste vlak sedert Maart verlede jaar bereik nadat swak Amerikaanse ekonomiese data die vraag na die sogenaamde veilige belegging aangespoor het. Die kommoditeit het vroegoggend 2 023 Amerikaanse dollar per fynons bereik. Die indeks vir die Amerikaanse dollar het ook ‘n laagtepunt bereik wat goud goedkoper maak. Kenners meen goud sal sy opwaartse trajek behou. Data toon dat Amerikaanse werksgeleenthede in Februarie tot die laagste vlak in byna twee jaar gedaal het, wat daarop dui dat die arbeidsmark besig is om te verstadig. ‘n Afsonderlike verslag toon dat nuwe bestellings vir VSA-vervaardigde goedere vir ‘n tweede agtereenvolgende maand in Februarie gedaal het. Goud word tradisioneel beskou as ‘n verskansing teen inflasie en ekonomiese onsekerhede.