Opul-besnoeiings: Brent spring met US$5 per vat

Brent ru-olie het met 5 Amerikaanse dollar ‘n vat gestyg toe handel in Singapoer vanoggend oopmaak. Reuters berig dat die prys teen 84,95 Amerikaanse dollar ‘n vat in die Asiatiese stad verhandel. Dit kom na Opul en sy vennote aangekondig het dat produksie met 1,16 miljoen vate daagliks verlaag sal word maar, lidlande het beloof om verskeie verdere besnoeiings te maak wat die totale volume besnoeiings tot op 3,66 miljoen vate daagliks bring, ongeveer 3,7 persent van die wêreldwye vraag. Ekonome het vroeër voorspel dat olie vanjaar teen 80 dollar ‘n vat sou verhandel, maar nou het Goldman Sachs reeds sy voorspelling aangepas na 95 dollar ‘n vat vanjaar en 100 dollar ‘n vat volgende jaar. Intussen word die aankondiging van die Namibiese brandstofprys vir April vandag verwag. Voorspellings toon die prys sal of onveranderd bly of daar sal ‘n geringe verlaging wees.