Dippenaar se kenner ruk staat se weergawe uitmekaar

Die verdediging in die moordsaak van Jandre Dippenaar het kommer geopper oor die metodes wat die staat gebruik het om die noodlottige motorongeluk uiteen te sit. Dippenaar staan, onder andere, tereg op ses klagte van moord in die Swakopmund-streekshof na die motorongeluk op 29 Desember 2014, waarin ses mense net buite Hentiesbaai dood is. Sy kenner, Stanley Bezuidenhout, het Johan Joubert wat vir die staat getuig het, se ontleding uitmekaar geruk en beskryf as outyds, onwetenskaplik en inherent foutief. Bezuidenhout stem saam met Dippenaar se weergawe dat die Duitse Joschko-familie se Ranger-bakkie in sy baan was toe die ongeluk gebeur het. Hy voeg by dat tegniese getuienis korrek moet wees omdat dit die uitkoms van die verhoor sal bepaal.