Vraag na tollies in SA daal met amper 17%

Die Namibiese Vleisraad sê op ‘n jaargrondslag het die uitvoer van tollies na Suid-Afrika met amper 17 persent gedaal as gevolg van swakker vraag in die buurland. Die raad voeg by dat terwyl 29,4 persent van alle plaaslike aanbod by uitvoer-abattoirs geslag is, het bedrywighede by B- en C-klas abattoirs verder afgeneem met net 9,6 persent van diere wat by die aanlegte verwerk is. Op ‘n jaargrondslag het verslagtings by B-klas abattoirs met 26,6 persent gedaal en by C-klas fasiliteite, is ‘n daling van amper 50 persent aangeteken. Die gemiddelde prys van tollies suid van die veterinêre kordonheining het ook gedaal met 22,8 persent wat in Februarie vanjaar aangeteken is.