ActionSA sê Cyril se stilte oor Uganda-gaywette is oorverdowend

ActionSA sê President Cyril Ramaphosa se stilswye oor Uganda se wetsontwerp teen homoseksualiteit is oorverdowend en kommerwekkend. Uganda se parlement het Dinsdag omvattende wetgewing teen gays aanvaar wat swaar nuwe strawwe vir mense in huwelike van dieselfde geslag inhou. Dit kriminaliseer ook enige iemand wat as deel van die LGBT-gemeenskap identifiseer. In sekere gevalle word die doodstraf selfs voorgestel. ActionSA se leier, Herman Mashaba, sê Ramaphosa moet standpunt inneem namens die miljoene Afrikane wat steeds kwesbaar is teen wetgewers wat hulle basiese vryheid en regte skend.