Lühl-Delgado egpaar sal Yona by ministerie registreer

Die Namibia Equal Rights Movement se Omar van Reenen het ’n verklaring uitgereik oor die uitspraak van die hooggeregshof in die appèlsaak van die regering teen die hoërhof se beslissing dat die gay Lühl-Delgado egpaar se seun Yona, as Namibiese burger geregistreer moet word. Van Reenen sê die hof, as die voog van alle minderjarige kinders, is veronderstel om in die beste belang van die kind te beslis en die regters het hierdie fundamentele verantwoordelikheid gesystap. Die hof het die saak van die hand gewys na aanleiding van die misleidende tegniese argument deur die staatsprokureurs dat die Delgado-Lühl-familie nie ‘n geboorteregistrasie ingedien het in Suid-Afrika nie. Die gesin is van voorneme om ‘n aansoek in te dien vir die registrasie van geboorte – soos per die uitspraak – in afwagting dat die ministerie sodanige registrasie sal weier op grond van sy konsekwente homofobiese houding. Die ministerie het aangedui dat hy oop is om met die familie te vergader om die saak te bespreek.