Mynwese is uiters belangrik maar, kan nog meer bydra

Kenners is van mening dat die SAOG se mynbousektor die potensiaal het om die streek se ekonomie ’n hupstoot te gee indien dit ten volle ingespan word.  Die sektor dra meer as 60 persent van die streek se buitelandse valuta-verdienste en minstens 10 persent van die streek se BBP by. Met meer as 500 000 werkers in diens, kan die belangrikheid van die sektor nie oorbeklemtoon word nie. Maar, daar is kritiek. Die skadu-finansminister en LP van die PDM-opposisieparty, Nico Smit, sê waardetoevoeging en plaaslike besit is die grootste uitdagings vir die sektor. Die fondse wat verdien word bestaan uit belasting en tantieme en die groot winste verlaat veral Namibië, omdat minerale in rou vorm uitgevoer word. Op die oomblik, dra Namibië se diamante aan die ekonomiese herlewing by maar Smit stem saam met Botswana dat die plaaslike regering ‘n groter aandeel daarin moet hê. Namibië se mynbousektor het in die derde kwartaal van verlede jaar met 22 persent gegroei en het sowat 1,8 persent van die algehele arbeidsmag uitgemaak. Smit sê die syfers kan baie groter wees indien ons waardetoevoeging en plaaslike besit versterk.