KZN is paraat vir Maandag se EFF-optog

Die premier van KwaZulu-Natal, Nomusa Dube-Ncube, het ‘n beroep gedoen op betogers om streng selfbeheersing toe te pas en enige onwettige optrede te voorkom wanneer hulle Maandag aan die EFF se beoogde landwye betogings deelneem. Sy sê die optrede kom te midde van die provinsie se verskerpte pogings vir heropbou ná die vernietigende oorstromings in April, die nagevolge van die Covid-19-pandemie en die Julie-onluste in 2021. Dube-Ncube het ‘n beroep op die polisie gedoen om met die Departemente van Justisie, Misdaadvoorkoming en Veiligheid hande te vat vir die nodige beplanning en voorbereiding.