Mianmar bespreek repatriasie met Rohingya-vlugtelinge

‘n Afvaardiging van Mianmar het by ‘n reuse-kamp van Rohingya-vlugtelinge in Banglasesh aangekom om toesig te hou oor die eerste fase van ‘n repatriasie-program om die groep na Mianmar terug te stuur. Nagenoeg een miljoen Rohingya-Moslems woon in die kamp in Cox’s Bazar in Bangladesh nadat hulle in 2017 van weermag-aanvalle gevlug het. Dit is die eerste keer in ses jaar dat Mianmese amptenare van aangesig tot aangesig onderhoude met Rohingya-vlugtelinge voer. Die amptenare sal met meer as 700 van die vlugtelinge in gesprek tree om te bepaal of hulle na Mianmar wil terugkeer. Vroeëre pogings om hulle te repatrieer het skipbreuk gely vanweë kommer oor hul veiligheid in hul land van herkoms.