Russe gaan hof toe oor boorpermit

Headsprings Investments, die Namibiese verteenwoordiger van die Russiese uraan-reus Uranium One, wend hom aan die hoërhof in ‘n poging om toestemming om te boor by die landbouministerie te bekom. Die boorpermit, vir uraan-eksplorasie boorwerk naby Leonardville, is op 5 Oktober verlede jaar geweier. Die maatskappy vra dat die respondente, 39 van hulle wat ook 27 boere insluit, die redes moet verskaf oor hoekom die permit geweier is, of, in die alternatief, wend Headsprings hom aan artikel 18 van die Grondwet wat sê dat daar regverdig met administratiewe liggame omgegaan moet word en indien nie, mag die liggame hulle aan die hof wend. Die Stampriet Aquifer Uranium Mining Association, wat nie as ‘n respondent in die saak genoem is nie, sê hy win op die oomblik regsadvies in oor watter opsies daar vir die boere is. Regter Orben Sibeya het die saak tot 16 Maart uitgestel en ‘n gesamentlike statusverslag moet teen 13 Maart deur die partye ingedien word.