Suid-Afrika se verbruikersinflasie daal

Terwyl die Namibiese Statistieke-agentskap vandag Januarie se inflasie bekend gemaak wat op 7 persent staan, het die jaarlikse verbruikers-inflasie in die buurland in Januarie gedaal tot 6,9 persent, vanaf 7,2 persent in Desember. Die slegte nuus is egter dat voedsel-inflasie ‘n 14-jaar hoogtepunt bereik het. Voedsel- en nie-alkoholiese drank-inflasie het verlede maand tot 13,4persent toegeneem – die hoogste vlak sedert April 2009. Groente het die grootste styging beleef, met pryse wat tussen Desember en Januarie meer as 5 persent gestyg het. Brood- en graanpryse is 21,8 persent hoër as ‘n jaar gelede. Vleispryse was in Januarie 11,2 persent hoër as ‘n jaar gelede. Statistiek SA berig spek is 19,4 persent duurder as ‘n jaar gelede.