Gerrie Nel sal nou ondersoek instel na Willem Kruger se dood
Uit Suid-Afrika word berig dat die bekende regsman Gerrie Nel ingeroep is om die raaisel rondom die dood van Willem Kruger te ondersoek. Kruger, ‘n 29-jarige boer van Groblersdal, het in November verlede jaar vermis geraak na ‘n ramparty en sy liggaam is nege dae later in die Vaalrivier gevind. Die voorlopige uitslae van ‘n nadoodse ondersoek toon dat hy moontlik verdrink het. Op die oomblik word geen kriminele ondersoek gedoen nie en owerhede sê hulle is besig met ‘n nadoodse ondersoek. Baie mense wat na aan Kruger was glo sy liggaam is in die rivier geplaas en vermoed vuilspel. Kruger se pa Tian sê hulle sal nie rus voor hulle nie antwoorde kry nie.