Stad Whk: Nuwe groep, G5, vergader met Uutoni

Vyf Stad Windhoek-raadslede wat hulself die Windhoek G5 noem, het met die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, Erastus Uutoni, vergader oor die stand van die stad se leierskap. Die G5 bestaan uit raadslede Job Amupanda, Sade Gawanas, Clemensia Hanases, Ilse Keister en Ivan Skrywer. Die verkiesing van twee bestuurskomiteelede is steeds uitstaande nadat lede op 15 Desember 2022 uitgestap het, en ‘n dooiepunt bereik is op 19 en 26 Januarie. Die G5 het Uutoni ingelig dat die raad, ondanks twee vakante poste in die bestuurskomitee, funksioneel bly. Die minister het die hoop uitgespreek dat die vergadering van 9 Februarie die dooiepunt sal oplos en die oorblywende twee raadslede van die bestuurskomitee verkies sal word.