Swaar neerslae sal vloedvlakke in Noorde verhoog
Die Namibiese Hidrologiese Dienste sê volgens sy span op die grond sal vloedwaters van die Cuvelai-opvangsgebied Endola die naweek bereik. Daar is steeds kommer oor swaar neerslae in die opvangsgebied wat tot 28 Januarie sal duur. Gebeurlikheidsplanne vir vloedgevare sal vir die Ohangwena- en Oshana-streke geaktiveer word en gemeenskappe word gemaan om versigtig te wees. Volgens die dienste se jongste verslag Vrydag was die Jordaanrivier in Tsumeb in vloed en oorstromings is in die dorp aangemeld. Die Zambezi-rivier se vlak was Vrydag op 1,38 meter met die Okavango op 4,32 meter by Rundu. Die Kunene-rivier loop teen 166,3 kubieke meter per sekonde. Die Benede-Oranjerivier se vlak staan op 1,89 meter.