Efundja: Jongste oor watervlakke, rivier, iishanas

Die Namibiese Hidrologiese Diens sê geen vloei is in die iishanas van die westelike Cuvelai-bekken waargeneem nie. Sy jongstse verslag dui op waarnmenings wat Donderdag gedoen is. Maar, daar is kommer oor swaar neerslae in die opvangsgebied wat tot 27 Januarie duur. Gebeurlikheidsplanne vir vloedgevare sal vir die Ohangwena- en Oshana-streke geaktiveer word en gemeenskappe word gemaan om versigtig te wees. Teen Dinsdag is opnames by Shanalumono, ongeveer 10 kilometer suidwes van Oshikango, op 0,324 meter gemeet wat tot Donderdagoggend tot 0,45 meter gestyg het. Die Zambezi-rivier se vlakke is tans op 1,35 meter met die Okavango op 4,29 meter. Die Kunene-rivier loop teen 155,3 kubieke meter per sekonde wat beter vertoon vir die Ruacana hidroëlektriese-aanleg maar nog nie naastenby sterk genoeg is nie.