Skole sluit as gevolg van efundja

Die onderwysdirektoraat in die Ohangwena-streek het onderrig by die Onghala- en Shingunguma-laerskole opgeskort as gevolg van die efundja. Altesaam ses skole is deur die vloede geraak. Isack Hamatwi, onderwysdirekteur in die streek, het aan plaaslike media bevesig dat die besluit in samewerking met die leerders se ouers geneem is. Daar is nie genoeg fondse om die kinders nader aan die skole te huisves nie. Volgens Leonard Hango, senior hidroloog in die landbouministerie vorder die vloed in die hoof Cuvelai-kanaal  nou na die Endola-nedersetting, en word inwoners daar word versoek om voorsorgmaatreëls te tref. Hango sê die watervloei neem snags toe namate die grond koeler word en daar minder verdamping is. Intussen sal die Ohangwena-ramprisikobestuurskomitee vandag vergader om die pad vorentoe te bepaal. Gesondheidspersoneel van die Engela-distrikshospitaal is na verskeie dorpe in die Ohangwena-streek gestuur om watersuiweringstablette en orale rehidrasie-soute aan vloed-geteisterde inwoners te versprei.