Nida skors Mihe Gaomab

Die Namibiese Nywerheids-ontwikkelings-agentskap, Nida, het die skorsing van sy beleërde uitvoerende hoof, Mihe Gaomab, aangekondig. In ‘n brief aan die agentskap se werknemers, het die voorsitter van die Nida-raad, Sebby Kankondi, die skorsing van Gaomab met onmiddellike effek bevestig. Einde verlede jaar het Gaomab verskoning gevra vir 100 beeste wat by die Kavango Cattle Ranch in die Mangetti-gebied van die Kavango-Wes-streek onder toesig van Nida gevrek het. Kankondi sê die redes vir Gaomab se skorsing bly vertroulik en kan nie bekend gemaak word nie maar, die raad is blykbaar uiters ongelukkig met Gaomab se prestasie. Die raad het die aanstelling van Phillip Namundjebo as die waarnemende uitvoerende hoof tot verdere kennisgewing aangekondig.