EIF befonds boorgat-projek van N$1,2 miljoen in Karas
Die Omgewingsbeleggingsfonds, die EIF, het die opgradering van tien boorgate in die !Han /Awab-bewaringsgebied in die Karas-streek befonds sodat hulle sonkrag-boorgate in plaas van diesel-aangedrewe boorgate het. Volgens die omgewingsminister Pohamba Shifeta is saam met die opgegradeerde boorgate ook waterpunte met 10 000 liter-tenke en veekrippe ter waarde van 1,2 miljoen Nambiese dollar geïnstalleer. Meer as 1 250 gemeenskapslede in die bewaringsgebied het nou toegang tot skoon drinkwater wat ook 30 groente- en vrugtetuine ondersteun wat bydra tot voedselsekuriteit. Die EIF befonds die projek onder die Gemeenskapsgebaseerde Natuurlike Hulpbronne-bestuur in Namibië.