N$5,5m per kilometer vir instandhouding van teerpaaie

Die Padfondsadministrasie is gestig om ongeveer 49 000 kilometer se paaie, met ‘n beraamde waarde van 120 miljard Namibiese dollar, te onderhou. Die uitvoerende hoof van die administrasie het meer inligting bekend gemaak na die reaksie op sy aankondiging oor tolhekke op die land se roetes. Ali Ipinge sê van die padnetwerk is net meer as 8 200 kilometer teerpaaie waarvan 32 persent ouer as 10 jaar is en nie meer waterdig is nie wat die oppervlak glibberig en gevaarlik maak. Tien persent van die teerpaaie is in ‘n uiters swak toestand. Hy sê 5,5 miljoen Namibiese dollar is per kilometer nodig vir uitgebreide rehabilitasie. In verband met die meer as 39 000 kilometer se grondpaaie, is 49 persent in ‘n swak toestand en 675 miljoen dollar per jaar is nodig om die paaie, veral die roetes na toeristebestemmings, in stand te hou. Ipinge sê die administrasie het tot op hede 30 miljard dollar op padinfrastruktuur bestee en daarom is die land nommer-een in Afrika en 23ste in die wêreld vir padinfrastruktuur.