Geingob se kantoor, die ses kredietkaarte, en die ouditmening

Die Namibiese ouditeur-generaal, Junias Kandjeke, het berigte bevestig dat hy wel ‘n gekwalifiseerde ouditmening oor die finansiële sake van die Kantoor van die President uitgereik het. Die oudit is vir die boekjaar wat 31 Maart 2021 geëindig het. Die ouditmening is weens ses onwettige kredietkaarte en bankrekeninge wat lank voor 2019 sonder die tesourie se goedkeuring by ‘n plaaslike handelsbank geopen is. Volgens die verslag is die ses kredietkaarte toegeken aan verskillende amptenare wat nou saam met die president werk. Die kwessie is in 2019-2020 reeds geopper maar dit is nie aangespreek nie. Verskeie onreëlmatighede is ontdek. Intussen is drie van die kaarte reeds gesluit maar, drie is steeds in werking. Kandjeke maak melding van besteding waarvoor daar geen beskikbare fakture is nie.