Transworld Cargo herstel Gammams-syspoorlyn
Die Namibiese logistieke maatskappy Transworld Cargo hanteer jaarliks meer as 5 500 vraghouers en sowat 2 000 hiervan is vir hul kliënt Namibia Breweries. Transworld Cargo het 8 miljoen Namibiese dollar in die Gammans-syspoorlyn langs hul hoofkantoor in Braunstraat in die Suidelike Nywerheidsgebied in Windhoek belê om beter diens aan hul kliënte te kan lewer. Die Gammams-syspoorlyn, wat oorkant die Windhoek-begraafplaas in Hosea Kutako-rylaan geleë is en aan TransNamib behoort, is al jare lank nie meer in gebruik nie. Bouwerk het in Oktober 2021 begin en drie spoorlyne is gebou om treinwaens te parkeer, en vraghouers op en af te laai. Vir Namibia Breweries moet minstens agt vraghouers per dag hanteer word. Hulle ontvang tot 120 vraghouers per skip by Walvisbaai wat verkieslik per spoor na Windhoek vervoer moet word.