Hartebeestloop-bul behaal N$500 000

Die Hartebeestloop-veiling naby Stampriet is op die oomblik aan die gang met die bulle van ster Bonsmara-teler, Joggie Briedenhann, wat steeds onder die hamer gaan. Tot op hede is Lot 16, Hart 19-0007 die duurste bul wat verkoop het met ‘n prys van 500 000 Namibiese dollar. Lot 12, Hart 19-0427 het vir 470 000 Namibiese dollar verkoop. Lot 4, Hart 18-0255, het vir 360 000 Namibiese dollar verkoop en sy halfbroer, Hart 18-0259 het etlike oomblikke gelede vir 300 000 dollar verkoop met Lot 10, Hart 19-0038 wat vir 310 000 onder die hamer gegaan het. Meer as 50 bulle word vandag aangebied en 200 vroulike diere is te koop. Die veiling word as die belangrikste veiling op Namibië se landbou-kalender geag met kopers van regoor oor Afrika wat dit bywoon.