Israelse soldate skiet joernalis dood

Die Israelse weermag het die bekende Al Jazeera-korrespondent, Shireen Abu Akleh, in die besette Wesbank doodgeskiet. Sy is deur lewendige ammunisie getref terwyl sy verslag gedoen het oor Israelse klopjagte in die stad Jenin. Die Israelse weermag sê daar is op soldate geskiet en plofstowwe is tydens hul optrede in Jenin teen hulle gebruik, waarna hulle teruggeskiet het. Nog ‘n Palestynse joernalis wat vir die koerant Al-Quds in Jerusalem werk, is gewond, maar in ‘n bestendige toestand. Akleh het sedert 2000 vir Al Jazeera gewerk. Katar se buitelandse ministerie het reeds gereageer en sê sy is koelbloedig afgemaai.