Busbestuurder skiet vermeende dief dood
‘n Busbestuurder van Econolux het homself aan die polisie oorgegee nadat hy ‘n vermeende dief in die vroeë oggendure in Galjoenstraat in Kuisebmond op Walvisbaai doodgeskiet het. Dit is nadat die oorledene en twee ander na bewering by die bus ingebreek het. Volgens polisiewoordvoerder, inspekteur Ileni Shapumba, het die 55-jarige busbestuurder, kort nadat hy die bus geparkeer het, ‘n geraas buite gehoor en ondersoek gaan instel. Twee mans het weggehardloop terwyl die derde een glo die bestuurder met ‘n onbekende voorwerp aangeval en die bestuurder die aanvaller doodgeskiet het. Die bestuurder word van moord aangekla. Die oorledene is geïdentifiseer as die 30-jarige Iyambo Lazarus.