Vriendelike, honger rob kort rehabilitasie, dieet

‘n Oorvriendelike rob in Engeland moet gerehabiliteer word nadat mense op ‘n strand haar toebroodjies, oliebolle en vis gevoer het. Die rob, Spearmint, is ‘n bekende gesig vir strandbesoekers in Plymouth en Cawsandbaai in Cornwall. Ten spyte van kenners se pogings om haar weer in die natuur te laat aanpas, het Spearmint te afhanklik geword van die kos wat mense aan haar gee en eet sy nou nie meer nie. Britse media berig die rob is onder die sorg van die Britse Dierebeskermingsvereniging.