Bewyse dat Russe oor Bucha lieg
Satellietbeelde wat op 19 Maart in die Oekraïnse dorp Bucha geneem is, toon dat die lyke van burgerlikes wat op beeldmateriaal op 3 April uitgesaai is, op presies dieselfde plekke lê, twee weke voor die Russe onttrek het. Dit weerspreek direk die Russiese minister van buitelandse sake, Sergei Lavrov, se bewering dat die beeldmateriaal aspris daar geplaas is en fopnuus is. Die lyke is ook op satellietbeelde van 11 Maart te sien, maar nie so duidelik soos die beeld op 19 Maart nie. Intussen sê Amerika se minister van buitelandse sake, Antony Blinken, bewyse uit Bucha toon ‘n doelbewuste veldtog deur Russiese magte om te moor, te martel, te verkrag en gruweldade uit te voer, en dit was te verwagte.