Maxwell se skuldigbevinding is bekragtig

‘n Amerikaanse hof het Ghislaine Maxwell se skuldigbevinding aan sekshandel bekragtig en haar bod vir ’n nuwe verhoor geweier. Maxwell, nou 60 jaar oud, het gekla dat een van die jurielede voor die verhoor valslik verklaar het dat hy nooit seksueel misbruik is nie. Haar prokureurs het aangevoer die feit dat die jurielid in die verlede misbruik is, beteken dat hy nie onpartydig kan wees nie. Maxwell is in Desember verlede jaar skuldig bevind aan die handel in meisies vir die oorlede Amerikaanse finansier Jeffrey Epstein. Sy staar tot 65 jaar tronkstraf in die gesig, maar hou vol sy is onskuldig. Epstein het in 2019 selfmoord in aanhouding gepleeg.