Lasbrief vir bekroonde Ugandese skrywer uitgereik
’n Ugandese hof het ’n lasbrief uitgereik vir arrestasie van ’n internasionale bekroonde skrywer wat verlede maand na Duitsland gevlug het om behandeling te soek vir beserings wat volgens hom tydens marteling deur veiligheidspersoneel opgedoen is. Kakwenza Rukirabashaija is aan die einde van Desember gearresteer en vir byna ‘n maand aangehou voordat hy aangekla is van kommunikasie-misdrywe wat verband hou met twiets wat President Yoweri Museveni en sy seun gekritiseer het. Sy prokureur Eron Kiiza het aan media gesê dit is eenvoudig ’n voortsetting van sy teistering, want die hof kon gekies het om hom in absentia te verhoor. Rukirabashaija het ná sy vrylating in Januarie gesê hy is deur veiligheidspersoneel gemartel terwyl hy in aanhouding was. Beelde van sy liggaam het martelmerke getoon. Hy sê hy is in die maag geslaan, geskop, met geweerkolwe geslaan, en dat sy martelaars ’n tang gebruik het om stukke vleis van dele van sy liggaam af te skeur.