Nuwe kliniek, geen personeel nie

Die kliniek by Nkurenkuru in die Kavango Wes-streek, wat in September verlede jaar voltooi is, is steeds gesluit as gevolg van ‘n tekort aan verpleegsters en ander personeel. Die uitvoerende direkteur in die gesondheidsministerie Ben Nangombe, sê daar is op die oomblik ‘n landswye tekort aan verpleegsters deels as gevolg van baie werklose gesondheidsorgwerkers wat in die stryd teen Covid-19 ontplooi is. Hy sê na poste geadverteer is, is aansoeke wat nie voldoende was nie, ontvang. Daar is ervare verpleërs nodig by die kliniek. Die streek se gesondheidsdirekteur, Fransiska Hamutenya, sê hulle is steeds in gesprek om te sien of hulle personeel van ander gesondheidsentrums in die streek moet neem. Sy meen verpleërs verkies om in stedelike gebiede te werk en dorpe soos Nkurenkuru is nie aanloklik nie. Sy kon nie sê wanneer sy voorsien dat die kliniek in werking sal tree nie, maar voeg by ‘n vergadering sal die week gehou word.