Brent skiet die hoogte in, Biden sê Rusland sal betaal

Die prys van Brent Ru-olie het verder gestyg en verhandel tans bo 102 Amerikaanse dollar ‘n vat met die Russiese inval in die Oekraïne. Die Russiese President Vladimir Putin se inval het rondom vyf-uur vanoggend plaaslike tyd, begin. Die Suid-Afrikaanse beleggingsekonoom Dawie Klopper het vroeër voorspel dat olie tot by 110 Amerikaanse dollar kan verhandel sou die Russe hul bure aanval. Putin sê die inval was nodig omdat die twee wegbreekstreke, Donetsk en Luhansk gevra het vir beskerming teen Oekraïnse troepe, wat die VSA afgemaak het as propaganda. Ontploffings word in verskeie stede regoor die land gehoor. Amerikaanse President Joe Biden het gesê Navo se militêre reaksie sal begin en het getwiet dat Rusland alleen verantwoordelik is vir die verwoesting wat die aanval sal saai en dat die wêreld Rusland aanspreeklik hou daarvoor. Rusland wil nie hê die Oekraïne moet by Navo aansluit nie omdat dit teen die bepalings van die Minsk-ooreenkoms is en dit het die herrie ontketen.