Lüderitz-inwoners eis arrestasie na plaaswerker sterfte

Inwoners van Lüderitz het ‘n petisie aan die Karas-polisiehoof David Indongo gerig en gevra dat Poenie van Zyl in hegtenis geneem word. Dit volg na die dood van die 33-jarige plaaswerker, Edmund Ndaukako. Sy liggaam is Saterdag buite die dorp gevind. Sy familie het hom op 14 Februarie as vermis aangemeld nadat hy op 11 Februarie op ‘n plaas begin werk het. Volgens die Namibiese polisie het hy op 13 Februarie “verstandelik gestremd” begin optree en die eienaar van die plaas, Van Zyl, het hom teruggeneem Lüderitz toe. Ndaukako het glo op pad terug sowat 50 kilometer vanaf Lüderitz van die bakkie probeer afspring en Van Zyl het hom langs die pad gelos. Nadat hy as vermis aangemeld is, is Ndaukako se spore gevolg en sy lyk is 20 kilometer verder gevind. Die nadoodse ondersoek het geen bewyse van enige geweld aangedui nie en dus is daar geen klag van aanranding of moord wat gebring kan word nie.