Mediese student wil nie tronk toe gaan na vervalste Covid-toets nie

Plaaslike media berig dat ‘n sewende-jaar mediese student, Mussa Phiri, 28 jaar oud, op die oomblik ‘n hofstryd het om vrygelaat te word uit die gevangenis uit. Hy is twee jaar tronkstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is van die vervalsing van Covid-uitslae by die Namibiese grens. Hy is nie die opsie van ‘n boete gegee nie. Hy is in Augustus 2021 saam met die 22-jarige Martha Namupala by die Ngoma-grenspos by Katima Mulilo gearresteer. Phiri is ‘n Malawiese burger en was op pad Zambië toe om sy studies daar voort te sit na ‘n besoek aan Namibië. Beide het skuldig gepleit. Namupala is 12 maande tronkstraf opgelê. Landdros Clara Mwilima het in haar uitspraak gesê dit is uiters teleurstellend dat sulke onverantwoordelike gedrag getoon word, veral omdat Covid soveel lewens geëis het.