15% van Eskom se skuld ingevorder

Die bestuurshoof van Eskom, André de Ruyter, sê hulle het daarin geslaag om hul skuld met 15 persent te verminder, maar die balansstaat bly steeds onder druk. Hy het voor die Parlement se portefeuljekomitee oor Openbare Ondernemings verskyn. Eskom het in die ses maande tot einde September ná belasting ‘n wins van 9,2 miljard Suid-Afrikaanse rand getoon, wat 216 miljoen rand méér is as die vorige jaar. Sy lenings het van 464 miljard rand tot 392 miljard rand gedaal. De Ruyter sê operasionele bedryf bly hul grootste uitdaging, aangesien die land steeds beurtkrag gaan ondervind. Hy sê die proses om die maatskappy in drie afsonderlike entiteite te verdeel is goed op dreef.