Gemeenskapskoshuis in Kunene kry 83 matrasse, 22 stapelbeddens

Die Namibiese onderwysministerie het 83 matrasse en 22 stapelbeddens vir die gemeenskapskoshuis van die Otjerunda Gekombineerde Skool in die Kunene-streek gekoop. Dit volg nadat foto’s op sosiale media wys leerders slaap op beddens sonder matrasse of drie leerders deel een matras. Matrasse is reeds verlede week afgelewer en die beddens sal binnekort afgelewer word by die twee koshuisblokke wat reeds in 2020 deur die ministerie gebou is. Die uitvoerende direkteur in die onderwysministerie, Sanet Steenkamp, het verduidelik dat dit ‘n gemeenskapskoshuis is wat eers by die gesondheidsministerie geregistreer moet word.