Konsultante weer aangestel vir Psemas

Die Namibiese ministerie van finansies sal ‘n holistiese benadering volg tot die verskeie struikelblokke wat die staat se mediese fonds Psemas op die oomblik teister. Luidens ‘n verklaring is deel van dié benadering die aanstelling van ‘n konsortium van konsultante onder leiding van dr. Johan van Zyl. Die fokus sal onder meer weer val op die fonds se tariewe, voordele en struktuur van bydraes, sowel as die Psemas-kontrak met diensverskaffers wat reeds etlike jare sonder enige wysigings voortsloer. Dit volg na die vereniging van Namibiese tandheelkundiges vroeër aangekondig het dat Psemas-lede vanaf 1 November self vooruit vir behandeling moet betaal. Die fonds pas steeds die tariewe van 2014 toe. Die ministerie se woordvoerder, Wilson Shikoto, sê die span konsultante sal na verwagting teen die einde van die jaar hul verslag indien.