Lê beslag op lakse kontrakteurs se eiendomme: EkandjoMarch 14, 2025
Die openbare tenderproses het ‘n intense debat in die Nasionale Vergadering ontlok, na finansminister Ipumbu Shiimi ‘n wetsontwerp om die Verkrygingswet te wysig ter tafel gelê het. Swapo-LP Jerry Ekandjo het gevra vir strenger boetes teen kontrakteurs wat nie regeringsprojekte voltooi nie. Dit kom na ‘n herrie op sosiale media losgebars het toe die Padowerheid die plaaslike kontrakteur West Trading CC vervang het met China Henan International Cooperation Group, Chico, om die Nkurenkuru-Nepara padprojek te voltooi. Die 29 miljoen Namibiese dollar-projek het ten doel gehad om plaaslike kontrakteurs te bemagtig, maar is reeds ver oor sy 10-maande spertyd met die eerste fase steeds nie klaar nie. Ekandjo stel voor dat daar op kontrakteurs wat projekte nie voltooi nie se eiendomme beslag gelê word.