Werda-polisie tree vinnig op teen vermeende stropers

Die polisie op Werda het Vrydagaand ‘n man in hegtenis geneem wat versuim het om by ‘n padblokkade van die teenstropingseenheid naby die Etosha Nasionale Park te stop. Die man het drie insittendes met jagtoerusting vermoedelik langs die pad afgelaai voor die polisie hom aangekeer het. Identiteitsdokumente van ‘n verdagte in ‘n saak van renosterstropery is in die man se voertuig gevind. Die polisie ondersoek ‘n saak van onwettige jag van ‘n bedreigde spesie, asook sameswering om ‘n misdaad te pleeg.