Irak se sentrale bank blok nog vyf banke se dollartransaksies
Irak se sentrale bank sal nog vyf banke verbied om by Amerikaanse dollartransaksies betrokke te raak, ‘n stap wat kom ná vergaderings met Amerikaanse tesourie-amptenare in pogings om geldwassery, dollarsmokkelary en ander oortredings te bekamp. Reuters berig die stap kom ná vergaderings in Doebai verlede week tussen amptenare van die Sentrale Bank van Irak – wat verlede jaar reeds agt banke verbied het om Amerikaanse dollartransaksies te doen. Irak, ‘n seldsame bondgenoot van beide die Verenigde State en Iran met meer as 100 miljard Amerikaanse dollar in reserwes wat in die VSA gehou word, maak sterk staat op Washington se welwillendheid om te verseker dat sy toegang tot olie-inkomste en finansies nie geblokkeer word nie.