VN het kommer oor Oekraïne se kinders
Die Verenigde Nasies se Kinderfonds het kommer uitgespreek oor die volgehoue aanvalle op bewoonde gebiede in Oekraïne en die vernietigende uitwerking daarvan op kinders. In Poltava is drie kinders volgens berigte in ʼn missielaanval op ʼn woongebou beseer terwyl minstens vier ander in Kramatorsk, Sumy en Synelnykove gewond is. In die eerste twee weke van Januarie het meer as 1 600 mense, insluitend kinders, uit hul huise in Donetsk en Kharkiv gevlug. UNICEF sê voltydse vrede is nodig sodat kinders van oorlog kan herstel, weer kan skoolgaan en hul toekoms herbou.