N$10 000 beloning vir wenke oor platjaag van kormorante
Namibië se bewaringsowerhede soek inligting oor ‘n tragiese voorval wat op 17 Januarie by Canopy in die Dorob Nasionale Park plaasgevind het. Kaapse kormorante, ‘n bedreigde seevoëlspesie, is doelbewus deur ‘n voertuig platgery terwyl hulle op die strand geslaap het. Hierdie voëls het die afgelope drie dekades ‘n drastiese bevolkingsafname van 57 persent beleef. ‘n Beloning van 10 000 Namibiese dollar word aangebied vir inligting wat lei tot die identifikasie, arrestasie en vervolging van die skuldiges. Kosmos 94.1 Nuus het gepraat met Uaripi Katjiukua, woordvoerder van die mariene hulpbronne ministerie.