Mos-minister Chang tronk toe gestuur in New York
Mosambiek se voormalige finansminister, Manual Chang, is in New York tot agt en ‘n half jaar tronkstraf gevonnis, waarvan hy ses jaar reeds agter tralies in die Verenigde State en Suid-Afrika deurgebring het. Chang is in Augustus daaraan skuldig bevind dat hy 7 miljoen Amerikaanse dollar se omkoopgeld aanvaar het in ruil vir die ondertekening van sowat 2 miljard Amerikaanse dollar se geheime lenings aan staatsbeheerde maatskappye deur groot oorsese banke. Die lenings was vir die aankoop van onder meer ‘n tuna-visservloot maar die fondse is geplunder en Mosambiek het vasgeval met 2 miljard Amerikaanse dollar se skuld.