Beskerming vir informele sektor-werkers onder die loep
Volgens ‘n verslag deur die Internasionale Arbeidsorganisasie is byna 83 persent van indiensneming in Afrika en 85 persent in Afrika suid van die Sahara informeel, wat baie van die vasteland se jong werksoekers absorbeer. Die informele sektor kry egter nie die nodige ondersteuning en belegging vir inklusiewe strukturele ekonomiese transformasie nie. Daar kan dus nie voordele soos ‘n pensioenfonds aangebied word nie, en wanneer werkers aftree word hulle afhanklik van regeringstoelae. Kosmos 94.1 Nuus het gesels met Andreas Shipanga, ‘n korporatiewe verkoopskonsultant by Old Mutual Namibia, wat sê een opsie vir hierdie werkers is om ‘n lewensannuïteit uit te neem.