Okavango, Kunene vloei sterk, ander riviere laag
Die Zambezirivier by Katima Mulilo het vanoggend ‘n watervlak van 0,49 meter aangeteken, volgens die Namibiese Hidrologiese Dienste se vloedverslag. Dit is heelwat laer as die vlak van 1,33 meter wat verlede jaar dieselfde tyd aangeteken is. Die watervlak by Rundu aan die Okavangorivier het vanoggend van 5,82 meter tot 5,78 meter gedaal. Dit is egter hoër as die 5,15 meter dieselfde tyd verlede jaar. Die Kunenerivier het by Ruacana ‘n vloei van 464,6 kubieke meter per sekonde aangeteken, veel hoër as die 333,8 meter wat verlede jaar op dieselfde datum gemeet is. Die watervlakke by Blouputs en Sendelingsdrift aan die Benede-Oranjerivier was onderskeidelik 0,52 meter en 0,44 meter.