Hommeltuie laai verbode items by Britse tronke af
Georganiseerde misdaadbendes in Brittanje span hommeltuie in om dwelms en selfs wapens by gevangenes in tronke af te lewer, wat die nasionale veiligheid bedreig. Hoofinspekteur van gevangenisse, Charlie Taylor, sê die bendes is in staat om gesmokkelde ware by tronke met uiters gevaarlike gevangenes af te lewer. Dit volg na inspeksies van die Manchester-gevangenis in noordwes-Engeland en die Long Lartin-gevangenis in die weste. Die Manchester-gevangenis het ‘n ernstige probleem want hommeltuie lewer dwelms, wapens, selfone en selfs wegneemetes by selvensters af. Sowat 220 waarnemings van hommeltuie is by gevangenisse aangeteken.