Malaria-uitbreking in noorde, 9 sterfgevalle
Die gesondheidministerie het ‘n malaria-uitbreking in minstens 16 distrikte in die noordelike streke aangekondig. Tussen 4 November en 15 Desember is 2 210 malariagevalle aangemeld, met 265 ernstige gevalle wat tot 9 sterftes gelei het. Minstens 16 distrikte het die epidemiese drempel oorskry. Eenhana is die meeste geraak met 661 gevalle; gevolg deur Okongo met 336 gevalle. Ander geaffekteerde distrikte sluit in Oshakati, Tsumeb, Rundu en Outapi. Namibië ervaar tipies ‘n seisoenale hoogtepunt in malaria-oordrag vanaf Desember tot einde April, weens reënval wat gunstige toestande vir muskietteling skep. Die ministerie versoek alle inwoners en reisigers in die noordelike en noordoostelike streke om die nodige voorsorgmaatreëls teen malaria-infeksies te tref.